
=====================================================================
Afrikaans en 'n taalplan vir Suid-Afrika (AV 4:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Afrikaans en 'n taalplan vir Suid-Afrika

Dr. Gerard Schuring l uit hoe die finale verslag van die Taalplan Taakgroep (Langtag) Afrikaans raak.

In Augustus verlede jaar het dr Neville Alexander,   die voorsitter van Langtag (die Language Plan Task Group van die Departement van Kuns, 
Kultuur, Wetenskap en Tegnologie), die finale verslag van die Taakgroep aan die destydse Minister van die Departement oorhandig.

Die verslag begin met 15 aanbevelings vir implementering in die nabye toekoms en nog 8 vir implementering met verloop van tyd. Wanneer en 
hoe en of die aanbevelings gemplementeer gaan word, is nog onbekend. Maar indien die eerste 15 aanbevelings op die hoogste vlak aanvaar en 
gemplementeer gaan word, hoe sal dit Afrikaans raak? Hieronder word die 15 aanbevelings net in hooftrekke in vertaalde vorm aangehaal en 
bespreek vanuit die gesigshoek van hierdie vraag.

1.  Inisieer taalveldtogte om mense bewus te maak van die belangrike rol wat taal in die gemeenskap vervul en om mense te oor te haal tot 
die insig dat billikheid (equity) 'n onontbeerlike element van 'n veeltalige gemeenskap is. Skep programme en projekte om te verseker dat 
alle burgers weet wat hulle grondwetlike taalregte is.

So 'n veldtog sal Afrikaans nie bo die ander tale bevorder nie. Die tyd vir net Afrikaans en Engels is verby. Die veldtog vir billikheid in 
taalsake kan help om die ongeorganiseerde veldtog teen Afrikaans te ontsenu.

2.  Ontwikkel, publiseer en versprei 'n Taalgedragskode vir die staatsdiens om sodoende 'n einde te maak aan die veelvuldige magsmisbruik 
deur bepaalde taalgebruik.

Die kode beteken hopelik die einde van wat Henk Kroeze noem   "Buskruit-Afrikaans" in die staatsdiens. As iemand nie "mooi verstaan" nie, 
moet byvoorbeeld 'n kollega gesoek word wat dit wel mooi in sy eie taal kan verduidelik. As Afrikaans en Noord-Sotho of watter taal ook al 
amptelike tale van 'n bepaalde regeringskantoor is, behoort dit gepaard te gaan met groot bereidwilligheid en daadwerklike moeite om 
dienste in daardie tale te verskaf.

3.  Skerp politieke, ekonomiese en kulturele leiers op om die Afrikatale en ander randtale by belangrike en toonaangewende geleenthede te 
gebruik. Formuleer riglyne.

Teen die agtergrond van regstellende aksie word Afrikaans nie genoem nie. Maar as gebeur wat hierdie aanbeveling beoog, skep dit goeie 
geleenthede vir Afrikaans. Die werklike probleem is hier raakgevat: die dominerende rol van Engels. Die Taakgroep het dit nie teen Engels 
nie, maar wel teen die beskouing dat Engels die enigste noemenswaardige taal in die land is.

4.  Plaas druk (deur wetgewing en ander maniere) op die media van die staat en die private sektor om billike ruimte en tyd aan alle 
amptelike tale te gee en om gebaretaal en ander tale waar toepaslik te gebruik.

Hierdie aanbeveling is gerig op die bevordering van veeltaligheid en die afbreek van 'n soort eentaligheid wat alle ander tale uitsluit. 
Die woord "billike" beteken dat alle tersaaklike faktore in ag geneem moet word. Dit sluit onder meer in: ekonomiese oorwegings, 
taalvoorkeure van die lesers, luisteraars en kykers.

Daar is 'n plek en 'n tyd vir alles en sinvol geselekteerde andertalige gleuwe in die Afrikaanse, Engelse en ander media kan kommunikasie 
verbeter en die aantal gebruikers verhoog, veral as daar nie ander of voldoende kanale is of bekostig kan word nie. Dit is egter totaal 
iets anders as die huidige Babelse hutspot in sommige media.

5.  Gebruik aansporings om werknemers en werkgewers in sowel die private as openbare sektore te stimuleer om addisionele tale aan te leer, 
veral tale wat kan help om werksvaardigheid en produktiwiteit te verhoog.

Om nog 'n taal aan te leer is altyd sinvol. Die implementering van hierdie aanbeveling kan Afrikaanssprekendes (en sprekers van ander tale) 
se vaardigheid in verskeie tale verhoog, die aanleer van jou taal deur ander bevorder en 'n sterk eienskap van Suid-Afrika -- sy 
veeltaligheid -- verder uitbou. Hierby moet bedink word dat daar veel meer Afrikataliges is wat Afrikaans ken as Afrikaanstaliges wat 'n 
Afrikataal ken.

6.  Bevorder die gebruik van ander tale as Engels en Afrikaans op nuwe terreine en vir funksies met 'n ho status, byvoorbeeld by 
universiteite en technikons.

Dit is 'n aanbeveling vir nou, maar dit kan baie jare duur voordat Afrika relmatig Afrikatale vir funksies met ho status gebruik. Die 
taalplan vir Afrika bevat soortgelyke voorstelle en as Suid-Afrika op hierdie gebied die voortou neem, kan dit ontsaglik veel vir ons 
kontinent beteken. Sodra begryp en aanvaar word dat die moedertaal of huistaal die beste voertaal is vir die laagste tot die hoogste vlak 
van onderwys en opleiding, sal daar ook veel meer begrip wees vir enkelmedium skole.

7.  Verseker die stigting en/of die bevordering van navorsings-eenhede betrokke by die ontwikkeling en uitbouing van die Afrikatale aan die 
hand van die riglyne voorgestel in afdeling 6.

Tans is die funksies van die Afrikatale hoofsaaklik beperk tot die huis, radio en televisie en die eerste paar skooljare. Uitbreiding na 
ander funksies veronderstel gepaardgaande ontwikkeling van die betrokke tale.

Afrikaans het dramatiese korpus- en funksionele ontwikkeling beleef en is 'n goeie voorbeeld van wat gedoen kan word. Die Afrikatale het 'n 
veel groter behoefte op hierdie terrein as Afrikaans. 'n Beter formulering sou wees om te s dat al die amptelike tale van Suid-Afrika 
volgens relatiewe behoefte bevorder moet word.

8.  Hersien alle taalkurrikulums van inrigtings vir onderwys en opleiding met die doel om die sillabusse vir die leerlinge relevant, 
stimulerend en beroepsgerig te maak. Dit is veral van belang vir die opleiding van tolke en vertalers.

Die nuwe klem op praktiese taalbehoeftes en stimulerende onderrig weg van sielsdodende grammatika-handboeke moet verwelkom word. Dit kan 
vir al die tale betekenisvol wees, mits daar geen verval is in blote pragmatisme en taalluiheid nie. In die Middeleeue is Grammatika 
voorgestel as 'n groot vrou met 'n yslike vyl. Dit is 'n effens ander beeld as die Grieke se beeldskone Muse van die dig- en skryfkuns. 
Maar wie sal 'n mooi storie kan waardeer wanneer dit vermoor is deur onbeholpe en ongevylde taal?

Beter opleiding van vertalers en tolke en meer gebruik van tolke is onontbeerlik vir die veeltalige Suid-Afrika. 'n Tolk laat jou toe om 
jou taal te handhaaf en gelykertyd taalakkommoderend te wees. Dit kan vir Afrikaans en ander tale waardevol wees om gewoond te raak om 
spontaan en kosteloos en georganiseerd teen bepaalde tariewe by allerhande geleenthede tolke en vertalers te gebruik. Vertaling is ook glad 
nie so duur as wat dikwels voorgestel word nie. In verhouding is die koste vir die drukwerk en die papier en die verspreiding veel groter.

9.  Skep nuwe en verifieer bestaande databasisse vir alle taalverwante sake deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, die Raad vir 
Geesteswetenskaplike navorsing, die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, Gemeenskapsorganisasies en Nie-
regeringsorganisasies en ander liggame om sodoende navorsing en administrasie te verbeter en vaartbelynd te maak en effektiwiteit te 
verhoog. Gee voorkeur aan die daarstelling van meganismes wat toegang verleen tot sulke databasisse.

Geen taal kan bevorder word as mens nie die wie, wat, waar, wanneer en hoeveel van die enkele taal in die konteks van al die ander tale 
weet nie.

10. Sorg vir die daarstelling, of ondersteun die daarstelling van loodsprojekte op alle terreine waar sulke projekte noodsaaklik is voordat 
die betrokke departement of verskaffer op groot skaal sake implementeer. So byvoorbeeld is loodsnavorsing of loodsprojekte oor die 
uitvoerbaarste veeltalige onderwysmoontlikhede onder verskillende toestande noodsaaklik voordat grootskaalse onderwysbeplanning onderneem 
kan word.

Dit is 'n baie logiese en sinvolle aanbeveling, veral vir sulke komplekse probleme soos onderrig aan leerlinge met verskillende huistale. 
Die model om 'n tweede voertaal by die huistaal as voertaal te voeg is beter as die model om die huistaal as voertaal so gou as moontlik 
met 'n ander voertaal te vervang. Maar eersgenoemde model is veel moeiliker om te implementeer as laasgenoemde en daarom is loodsprojekte 
noodsaaklik.

11. Brei die staat se verskaffing en ondersteuning van basiese onderwys en opleiding aan volwassenes uit.

Daar is nog baie Afrikaanssprekende volwassenes in Suid-Afrika wat nie kan lees en skryf nie.

12. Reguleer die gebruik van die amptelike tale in die staatsdiens aan die hand van die riglyne voorgestel in afdeling 6.

[Een van die belangrikste aanbevelings in hierdie afdeling is dat departemente vir interne sake oorwegend Engels sal gebruik soos reeds die 
geval is, maar vir verskillende soorte publikasies 'n keuse sal maak tussen:

13. Een Ngunitaal (met rotasie van die 4 Ngunitale), een Sothotaal (met rotasie van die 3 Sothotale), Engels, Afrikaans, Tsonga en Venda (6 
tale vir onder meer wetgewing en jaarverslae); of
14. Engels en minstens twee ander tale (3 tale vir onder meer verslae van kommmissies; die keuse van die tale hang hoofsaaklik af van die 
teikengroep); of
15. Engels en een ander taal (2 tale vir internasionale ooreenkomste).]

Hierdie aanbeveling laat nog baie ruimte vir Afrikaans en die ander tale en moet daarom in die lig van die toenemende verengelsing 
verwelkom word. Die voorstel is gebaseer op die wetlike beginsels van regionaliteit (sien c), funksionaliteit (die aard/funksie van die 
dokument) en individuele regte (taalkarakter van teikengroep).

'n Elftalige beleid is baie moeilik om te implementeer en 'n mens kan verwag dat daar in die toekoms nog heelwat met laasgenoemde drie 
grondslae van veeltaligheid geworstel gaan word om 'n uitvoerbare balans tussen eentaligheid en veeltaligheid te vind.

* Omskep die Staatstaaldiens en die Nasionale terminologiediens in 'n Nasionale Taaldiens in die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap 
en Tegnologie met die doel om alle taal-ondersteunende aktiwiteite in die staatsdiens te ko-rdineer, daarvan op hoogte te bly en te 
verskaf soos nodig. Vestig 'n nasionale telefoon-tolkdiens waarby ingesluit is apparatuur soos TTY en telefoniese herleidienste vir die 
Dowes, sodra dit uitvoerbaar is.

Die voorstel om 'n telefoniese tolkdiens in te stel verdien almal se ondersteuning -- dit werk goed in Australi.

* Stel voor dat in elke sentrale regeringsdepartement 'n persoon of groep persone aangestel word met die taak om aandag te gee aan die 
taalsake van daardie departement en om in verbinding te tree met ander departemente, met die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en met ander 
relevante taalliggame.

Met so 'n komplekse saak soos elf amptelike tale kan jy nie maar net Gods water oor Gods akker laat loop nie. Een of meer persone moet sorg 
dra vir die implementering in elke departement se eie omstandighede. Hierdie aanbeveling help om veeltaligheid en daarmee al die tale van 
Suid-Afrika te bevorder.

* Rangskik taalbehoeftes in voorkeurorde en verseker dat genoeg fondse beskikbaar is vir die bevordering van die Regering se taalbeleid.

Die Regering se antwoord op hierdie laaste aanbeveling sal 'n aanduiding wees van hoe hoog veeltaligheid werklik op die owerheid se 
voorkeurlys staan. Hoe meer geld die owerheid aan veeltaligheid bestee, hoe groter die geleentheid vir Afrikaans om positiewe vrugte te 
pluk.

Samevattend kan nou gestel word dat die aanbevelings eerder Afrikaans sal bevorder as benadeel. Die Taalplan vir Suid-Afrika is geensins 
klaar afgerond nie. 'n Aantal lyne is getrek, maar dit is nie voldoende nie. Heftige teenkanting kan net Afrikaans se saak benadeel. Die 
buitelyne wat getrek is, bied ook koersaanduidings en stof tot nadenke vir alle Afrikaanse organisasies wat wil uitreik na buite die grense 
van net eie taalgenote.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av427.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1997 /// Afrikaanse sektor moet in rat kom (AV 4:2) /// 'n 
Positiewe taaltoekoms (AV 4:2) /// Staan Afrikaans sy man oor die lug? (AV 4:2) /// SAG begin wins sien (AV 4:2) /// Tale word digterlik 
saamgebind (AV 4:2) /// Laat Afrikaans soos kakiebos woeker (AV 4:2) /// Afrikaans en 'n taalplan vir Suid-Afrika (AV 4:2) /// Keuses word 
nou vir en in Afrikaans gemaak (AV 4:2) /// Moedertaalonderrig is belangrik (AV 4:2) /// Staan nader -- daar's hoop! (AV 4:2) /// Hoekom 
stry? (AV 4:2) /// Zoo leert men ... Afrikaans (AV 4:2) ///

